top of page

Bio

Susan Smith is op 10 Februarie 1985 op De Aar in die Karoo gebore. Sy word groot in Bloemfontein en matrikuleer in 1975 aan Hoërskool Sand du Plessis, waarna sy vir die graad BA Tale inskryf by die Universiteit van die Vrystaat. Sy verwerf daarna die Hoëronderwysdiploma en begin haar loopbaan as onderwyser in Bloemfontein. Sy tree in 1980 in die huwelik met Salmon Smith en in 1985 verhuis hulle na Port Elizabeth, waar haar twee kinders gebore word. In 1990 verhuis die egpaar na Oos-Londen.

 

Gedurende hierdie jare studeer Smith verder en verwerf in 1993 die graad DLitt oor feminisme in die Afrikaanse letterkunde. Sy raak intens betrokke by die Afrikaanse gemeenskap in Oos-Londen en is betrokke by verskeie projekte vir die bevordering van Afrikaans. In 2002 ontvang sy die Premierstoekenning van die Departement Kuns en Kultuur van die Oos-Kaap vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap en in 2012 die Orde van die Goue Pen vir bevordering van Afrikaans en die Orde van die Goue Kruik vir gemeenskapsbetrokkenheid (beide van Cordis Trust). In 1997 begin sy deeltyds Afrikaans te doseer by die destydse satellietkampus in Oos-Londen van Rhodes Universiteit, en toe die Oos-Londenkampus by Fort Hare saamsmelt in 2005, kry sy die geleentheid om ‘n volle departement van Afrikaans tot stand te bring. Susan Smith is tans vol professor in Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen.

 

In 2014 ontvang Smith die Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir die Bevordering van Afrikaans en in dieselfde jaar die ATKV/SA Akademieprys vir navorsing vir ‘n navorsingsartikel van uitstaande gehalte. In 2016 word sy bekroon met die ATKV Oorkonde vir lewenslange bydrae tot Afrikaans  en later in dieselfde jaar die Neville Alexander Toekenning vir bevordering van multitaligheid en van Afrikaans. 2016 is ook die jaar waarin sy by die Universiteit van Fort Hare die Visekanselliersprys ontvang vir Uitmuntendheid in Onderrig en Leer. In dieselfde jaar word sy waarnemende visedekaan van die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe en ontvang die Neville Alexander Eerbewys vir uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap. 

 

Haar eerste gepubliseerde gedigte verskyn in 1997 in Nuwe Stemme 1 en van haar gedigte word daarna in talle publikasies opgeneem, o.a. Versreise, Versjoernaal, Pret met Poësie, Vonkverse 1 & 2, Groot Verseboek en ’n Nederlandse bloemlesing, De Onbestemmelingen, waarin een van haar gedigte deur Gerrit Komrij in Nederlands vertaal is. Talle gedigte is op skoolvlak voorgeskryf.

 

Haar debuutbundel, In die afwesigheid van sin, verskyn in November 2012 by Protea Boekhuis. In November 2016 verskyn haar tweede bundel, Die aarde is ‘n eierblou ark, ook by Protea Boekhuis.

 

In haar navorsing hou Smith haar veral besig met ‘n ondersoek na ekokritiek en ekopoësie en die die toepassing van hierdie teorieë op Afrikaanse literêre tekste. Deur hierdie navorsing lewer sy ‘n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die ekokritiek en ekopoësie as literêr-teoretiese perspektiewe in die Afrikaanse literatuurteorie en letterkunde.

 

Sy dien sedert 2018 op die Direksie van die ATKV.

Susan Smith, Afrikaans, Gedigte, Poësie
bottom of page