top of page

Artikels en gesprekke

 

Die ekokritiese terrein van ondersoek is uiteenlopend en sluit onder andere die volgende vraagstukke in: die betekenis van die begrip natuur; die wyse waarop plek op dieselfde wyse as klas, geslag en ras bestudeer behoort te word; die begrip wildernis (as chaos) en hoe persepsies daarvan met verloop van tyd verander het; kommentaar op die grond/aarde waarop ons leef en die wyse waarop ons daarop leef; kritiek op hoe en wie ons is, hoe ons geleef het en hoe ons ’n nuwe wyse van leef kan konstrueer; persoonlike konneksie en die sin van verantwoordelikheid teenoor die onderwerp; ’n belangstelling in hoe en in watter mate veranderde landskappe verken en gerepresenteer word deur skrywers; die onderskeid tussen landskap en omgewing; ondersoeke na landskap as emosionele ruimte, as geheue, melodrama en sentiment; hoe die morele geografie van ruimte daar uitsien; hoe omgewingsliteratuur en politiek aan mekaar verwant is; en die wyse waarop ekopoësie en ekokritiek ander strategieë van aksie uitlok as waartoe omgewingsbeleid in staat is.

 

Die artikels hieronder het in verskeie akademiese joernale verskyn en verteenwoordig die navorsing wat ek die afgelope tyd oor die onderwerp gedoen het.

 

Die omskrywing en definiëring van die begrip ekopoësie binne die groter raamwerk van ekokritiek het nog weinig aandag in die Afrikaanse literatuurteorie ontvang. Ondersoeke na die aard en omvang van die ekokritiese beweging is, in die woorde van Buell (2005:1), "an increasingly heterogeneous movement" en loop ’n pad "bestrewn by obstacles both external and self-imposed". As kritiese teorie het ekokritiek nog nie dieselfde status as byvoorbeeld postkolonialisme of postmodernisme bereik nie en die heterogene en interdissiplinêre aard daarvan maak presiese omskrywing moeilik. Die fokus is op ’n ondersoek na die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie en die daarstelling van ’n omvattende definisie. Vanuit hierdie teoretiese raamwerk word daar in die laaste, kleiner afdeling van die artikel enkele gedigte uit Martjie Bosman se bundel Toevallige tekens ontleed. As deel van ’n eerste, ondersoekende artikel word ’n aantal kenmerkende eienskappe gedefinieer en word daar nagegaan hoe hierdie eienskappe konseptueel en visueel in die geselekteerde gedigte gemanifesteer word. Die definisie en onderskeidende kenmerke van ekopoësie wat in hierdie artikel voorgestel word, kan gesien word as deel van ’n uitgebreide stel merkers wat verdere navorsing noodsaak en as vertrekpunt kan dien vir die daarstelling van ’n ekopoëtiese teorie in Afrikaans.

 

LEES VOLLEDIGE ARTIKEL

Internasionaal word daar interdissiplinêr opnuut klem gelê op materialiteit en materialisme, algemeen beskryf as die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie/OO. Tereg praat Serenella Iovino van ’n ontploffing in navorsing oor hierdie onderwerp (Iovino 2012a:134) en teoretici beskryf die oplewing as “the material turn” (Iovino 2012b:3; Alaimo 2010:7). Hierdie materiële draai word gesien as reaksie op die abstrakte tekstuele teorieë van onder andere Jacques Derrida, Julia Kristeva en Michel Foucault wat die afgelope aantal dekades die botoon gevoer het. Dat die nuwe materialisme ’n uitwerking op die ekokritiek en ekopoësie sou hê, was onafwendbaar. Die skeiding tussen teorie en materie word lank reeds deur die ekokritici bevraagteken, veral teen die agtergrond van die inherent samehangende en interaktiewe aard van ekokritiek. Ekokritici bepleit ’n herevaluasie van materie en materialiteit; hulle vra dat die skeiding tussen materie en teorie, tussen objek en subjek, tussen natuur en kultuur en tussen lewende en nielewende opnuut aandag verdien. Sulke ondersoeke lei tot nuwe perspektiewe wat veral lig werp op die aard van materie, inter- en intra-aksie met materialiteit en die wyse waarop materie narratologies optree. Daar word ook ondersoek ingestel na hiperobjekte en die invloed daarvan, nie net op die mens en sy onmiddellike omgewing nie, maar op die voortbestaan van die planeet. ’n Ekologiese ondersoek na materie en materialiteit brei ons konsepte van plek, ruimte, tyd en materie sodanig uit dat dit ons dwing om nuwe wyses te vind waarop ons met alle objekte kan saambestaan. Ekokrities en ekopoëties lei die ondersoek ons na die teks en die wyse waarop materialiteit daarin neerslag vind. In hierdie artikel word daar nagegaan wat die teoretiese agtergrond van die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie is en hoe aspekte daarvan as ekokritiese leesstrategieë aangewend kan word. Hierdie leesstrategieë word toegepas op geselekteerde gedigte van Johann Lodewyk Marais uit sy bundel In die bloute (2012).

 

LEES VOLLEDIGE ARTIKEL

Ekopoësie gaan, volgens Skinner (2001:7), oor die verhouding tussen mens en natuur in die omgewing wat ons deel – huis, of plek, soos dit in taal verwoord en ingebed word. Dit veronderstel ’n skryfpraktyk wat deel is van die proses wat die plek leefbaar en huislik maak. Wanneer plek in die ekogedig aangespreek word, geskied dit binne die raamwerk van ’n aantal kernterme – Buell (2005:65) praat van “emplacement” en Russo (s.j.:2) van “emplaced writing” en “writing within”. Buell (2005:63), ’n vooraanstaande navorser binne die ekokritiese beweging, identifiseer drie onlosmaaklike dimensies van plek: (i) die fisiese materialiteit van die omgewing, (ii) die sosiokulturele persepsie en linguistiese konstruksie van plek en (iii) die individuele en persoonlike verwantskap en verhouding met die plek. Hierdie artikel stel ondersoek in na die teorie van plek aan die hand van die genoemde drie merkers van Buell teen die breë agtergrond van die ekopoësie en die ekokritiek. Ek stel voor dat emplacement en emplaced writing met ingeplaastheid en ingeplaaste skryf vertaal word. Ek stel ook die term en konsep ingeplaaste lees as teoretiese nuutskepping voor om die verwantskap van die leser met die ekogedig en met die natuurlike omgewing wat daarin aangespreek word, te definieer. Nog ’n nuutskepping wat voorgestel word, is die term en konsep plektyd as teenstellende teoretiese beginsel van ruimtetyd. Daarmee word bedoel dat plektyd nie ’n ruimtelike abstraksie soos ruimtetyd is nie, maar in die werklikheid gesitueer is en berus op die belewing van plek binne reële tyd. Die artikel toon aan hoedat ingeplaastheid sentraal is aan omgewingskryfaksies en gesien kan word as een van die mees basiese identifiseerbare eienskappe van ekopoësie. Die artikel sluit af met ’n omvattende vertaalde glossarium van bestaande literêre terme asook die nuutskeppings ingeplaaste lees, plektyd en verhalende materie wat voorgestel word.

 

LEES VOLLEDIGE ARTIKEL

'n Verkenning van konsepte van binne-/buite-wees in Danie Marais se debuut-digbundel, in die buitenste ruimte (2006), met paratekstualiteit as vertrekpunt
Stilet 23(2)
bottom of page